Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak: “As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie.”

2

Toe Paulus en Barnabas hulle daarteen verset en in 'n heftige meningsverskil met hulle betrokke geraak het, is daar besluit dat hulle twee en nog 'n paar ander van die gemeente na die apostels en ouderlinge in Jerusalem moet gaan in verband met hierdie vraagstuk.

3

Nadat die gemeente hulle van die nodige vir die reis voorsien het, het hulle deur Fenisië en Samaria gegaan en vertel van die bekering van die heidene. Hieroor was al die gelowiges baie bly.

4

Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle deur die gemeente, die apostels en die ouderlinge verwelkom. Hulle het vertel wat God alles deur hulle gedoen het,

5

maar party van die gelowiges wat vroeër Fariseërs was, het na vore gekom en gesê: “Die bekeerlinge moet besny word en aangesê word om die wet van Moses te onderhou.”

6

Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie vraagstuk te bespreek.

7

Na 'n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my lankal uit julle geledere gekies het om die evangelie aan die heidennasies te verkondig sodat hulle kan glo.

8

En God, wat die harte ken, het dit bevestig deur die Heilige Gees aan hulle te gee net soos aan ons.

9

Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig.

10

Waarom wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur op die nek van die gelowiges uit die heidennasies 'n juk te lê wat ons voorvaders nie in staat was om te dra nie en ons ook nie?

11

Nee! Ons, en ook hierdie gelowiges, glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus gered word.”

12

Daarna het al die mense stilgebly en na Barnabas en Paulus geluister. Hulle het vertel van die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidennasies gedoen het.

13

Toe hulle klaar was, sê Jakobus: “Broers, luister na my!

14

Simon het verduidelik hoe dit God self is wat begin het om na die heidennasies om te sien deur vir Hom 'n volk uit hulle te versamel.

15

Die profete sê dieselfde. Daar staan geskrywe:

16

“Daarna sal Ek terugkom, en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal sy bouvalle herstel en dit weer regmaak,

17

sodat al die ander mense die Here kan soek, ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees, sê die Here wat hierdie dinge doen.

15:17: Vgl. Amos 9:11-12.
18

“Dit is van ouds af bekend.

19

Daarom meen ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat hulle tot God bekeer nie.

20

Maar ons moet vir hulle skrywe om nie vleis te eet wat aan 'n afgod geoffer is nie, want dit is onrein; dat hulle onsedelikheid moet vermy, geen dier wat verwurg is, moet eet nie, en ook nie bloed nie.

21

Hierdie voorskrifte van Moses word immers van ouds af in elke stad aan die mense voorgehou. Elke sabbatdag word dit in die sinagoges voorgelees.”

22

Daarna het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om mense uit hulle geledere saam met Paulus en Barnabas na Antiogië toe te stuur. Hulle het vir Judas, wat ook Barsabbas genoem is, en vir Silas gekies, manne wat die agting van die gelowiges geniet het.

23

Hulle het die volgende brief saamgestuur: “Van die apostels en die ouderlinge, julle broers. “Aan die gelowiges uit die heidendom in Antiogië, Sirië en Silisië. “Groete.

24

“Ons het gehoor dat daar mense van ons af gekom het wat julle verwar en ontstel het deur dinge te sê waarvoor hulle geen opdrag van ons ontvang het nie.

25

Daarom het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle toe te stuur. Hulle vergesel ons geliefde Barnabas en Paulus,

26

wat hulle lewe gewaag het vir die Naam van ons Here Jesus Christus.

27

Ons stuur nou vir Judas en Silas om ook mondeling hierdie dinge aan julle oor te dra.

28

Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie:

29

dat julle nie vleis moet eet wat aan 'n afgod geoffer is nie, ook nie bloed nie en ook geen dier wat verwurg is nie, en dat julle onsedelikheid moet vermy. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle reg. Hartlike groete.”

30

Die afgevaardigdes het afskeid geneem en na Antiogië toe gegaan. Daar het hulle al die gelowiges bymekaar laat kom en die brief oorhandig.

31

Die gelowiges het dit gelees en was baie bly oor die bemoedigende boodskap.

32

Judas en Silas, wat self ook profete was, het lank met die gelowiges gepraat en hulle bemoedig en geestelik versterk.

33

Nadat Judas en Silas geruime tyd daar gebly het, het hulle teruggegaan en die groete van die gelowiges oorgedra aan dié wat hulle afgevaardig het.

15:33: Sommige manuskripte voeg by: 34 Maar Silas het besluit om daar te bly.
35

Paulus en Barnabas het 'n tyd lank in Antiogië gebly en saam met baie ander onderrig gegee en die woord van die Here verkondig.

36

'n Tydjie later het Paulus vir Barnabas gesê: “Kom ons gaan kyk hoe gaan dit met die gelowiges in al die stede waar ons die woord van die Here verkondig het.”

37

Barnabas wou vir Johannes, wat ook Markus genoem is, met hulle saamneem.

38

Maar Paulus het gedink dit is nie reg om die man saam te neem wat hulle in Pamfilië verlaat het en nie end-uit die werk saam met hulle gedoen het nie.

39

Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het. Barnabas het toe vir Markus geneem en met 'n skip na Siprus toe vertrek.

40

Paulus het vir Silas gekies en vertrek, nadat hulle deur die gelowiges aan die genade van die Here toevertrou is.

41

Hy het deur Sirië en Silisië gereis en die gemeentes geestelik versterk.