| Vers nr. | Vers | Voetnota |
|---|---|---|
| 1 | Toe het die Here vir Job aangespreek uit 'n stormwind uit: | |
| 2 | “Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie? | |
| 3 | Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My. | |
| 4 | Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het. | |
| 5 | Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het 'n maatlyn oor hom gespan? | |
| 6 | Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit | |
| 7 | daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het? | |
| 8 | Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het? | |
| 9 | Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak. | |
| 10 | Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot en grendel gesit. | |
| 11 | Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie; hier is die grens van jou magtige golwe.’ | |
| 12 | “Het jy, Job, in jou tyd die môre beveel om te kom? Weet jy waar die daeraad vandaan kom, | |
| 13 | die daeraad wat lig oor die hele aarde bring sodat die goddeloses nie in die donker kan bly skuil nie? | |
| 14 | Met die daeraad word die vorm van die aarde sigbaar, dit neem vorm aan soos klere wat aangetrek word. | |
| 15 | Dan word die goddeloses hulle bestaan ontneem en word hulle geweld beëindig. | |
| 16 | Het jy, Job, al gekom by die plek waar die seewater uitborrel, en rondgestap op die bodem van die diepsee? | |
| 17 | Het jy die ingang van die doderyk gesien, die plek van donkerte al bekyk? | |
| 18 | Kan jy 'n beeld vorm van die groot wye wêreld? Praat as jy iets daarvan weet. | |
| 19 | Hoe loop die pad na die plek waar die lig woon? En die donkerte, waar is sy woonplek? | |
| 20 | Kan jy die donkerte na sy gebied toe terugvat? Ken jy die paaie na sy woongebied toe? | |
| 21 | Jy moet dit weet, jy wat maak of jy toe al gebore was, of jy 'n lang lewe agter die rug het. | |
| 22 | Was jy al by die plek waar die sneeu gebêre word? Het jy al die plek gesien waar die hael gebêre word, | |
| 23 | wat Ek opgegaar het vir 'n tyd van rampe, vir die dag as Ek wil oorlog voer? | |
| 24 | Hoe loop die pad na die plek toe waar die lig sy oorsprong het en die oostewind oor die aarde begin waai? | |
| 25 | Wie het vir die stortreën 'n pad oopgekap en vir die donderwolke hulle koers bepaal | |
| 26 | sodat dit reën in 'n land waar nie mense is nie, in 'n woestyn waar niemand woon nie | |
| 27 | en 'n droë, dor land deurnat word, sodat daar groen gras uitspruit? | |
| 28 | Het die reën 'n vader? Wie het die doudruppels in die wêreld gebring? | |
| 29 | Wie bring die ys te voorskyn? Wie bring die ryp in die wêreld? | |
| 30 | Die water word so hard soos klip, selfs die oppervlakte van die diepsee verys. | |
| 31 | Sou jy die Sewester met 'n band kon vasknoop of die band van Orion kon losmaak? | |
| 32 | Kan jy die sterre op hulle tyd laat opkom, kan jy die Beer met sy kleintjies laat uitkom? | |
| 33 | Weet jy hoe die hemelliggame werk? Stel jy hulle invloed op die aarde vas? | |
| 34 | Kan jy jou stem tot by die wolke hoorbaar maak sodat stortreën jou oordek? | |
| 35 | Kan jy weerligstrale uitstuur dat hulle vir jou kom sê: ‘Hier is ons’? | |
| 36 | Wie gee verstand aan die ibis om teen die vloed te waarsku of wie gee insig aan die haan om die dag aan te kondig? | |
| 37 | Wie het die kennis om genoeg wolke bymekaar te bring, om hierdie waterkruike van die hemel om te keer | |
| 38 | wanneer die grond kliphard is en daar net groot kluite lê? |
Ontwikkel deur