| Vers nr. | Vers | Voetnota |
|---|---|---|
| 1 | Spreuke van Salomo seun van Dawid, koning van Israel. | |
| 2 | Dié spreuke is bedoel om mense wysheid te leer en hulle te onderrig sodat hulle sal weet wanneer iemand verstandig praat. | |
| 3 | So sal hulle 'n behoorlike opvoeding ontvang en 'n sin vir regverdigheid, reg en billikheid. | |
| 4 | Wie nog nie kennis het nie, sal verstandig word, jongmense sal leer om met kennis en oorleg op te tree. | |
| 5 | Selfs wyse mense kan na die spreuke luister en so tot dieper insig kom. Wie reeds die nodige kennis het, kan die kuns aanleer | |
| 6 | om spreuke en sinspelings, woorde en raaisels van wyse mense te begryp. | |
| 7 | Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag. | |
| 8 | My seun, jy moet luister na die onderrig wat jou vader jou gee; moenie wat jou moeder jou leer, verontagsaam nie: | |
| 9 | dit sal jou lewe versier soos 'n krans jou kop en 'n kettinkie jou hals. | |
| 10 | As sondaars jou wil verlei, my seun, moenie toegee nie. | |
| 11 | Hulle sal vir jou sê: “Kom ons gaan lê iemand voor en vermoor hom, ons oorval sommer iemand, al het hy ons niks gedoen nie; | |
| 12 | kom ons laat mense verdwyn soos die dood dit doen, ons maak gesonde mense dood! | |
| 13 | Ons vat al wat waardevol is en ons maak huise vol met wat ons roof. | |
| 14 | Jy kan deel in die buit, dit sal ons almal s'n wees.” | |
| 15 | Moenie met hulle saamgaan nie, my seun, bly van hulle pad af; | |
| 16 | hulle is daarop uit om kwaad te doen, hulle wil gaan moord pleeg. | |
| 17 | 'n Voël wat 'n net sien wat vir hom gespan is, vlieg nie daarin vas nie, | |
| 18 | maar hierdie mense span vir hulleself 'n net, hulle gaan hulle ondergang met oop oë tegemoet. | |
| 19 | So gaan dit met elkeen wat vat wat hom nie toekom nie: rowery kos hom sy lewe. | |
| 20 | Wysheid is 'n vrou wat langs die straat staan en roep, sy laat haar stem hoor op die stadspleine, | |
| 21 | sy roep bo die rumoer uit, by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het: | |
| 22 | “Julle onkundiges, hoe lank gaan julle nog vashou aan julle onkunde, gaan die grootpraters hulle pratery geniet en die swape 'n afkeer hê van kennis? | |
| 23 | As julle luister na my teregwysing, gee ek julle my wysheid in oorvloed en leer ek julle my woorde begryp. | |
| 24 | “Ek het geroep en julle wou nie luister nie, ek het my hand uitgesteek en julle het dit nie gegryp nie. | |
| 25 | Julle het my raad alles in die wind geslaan, julle wou julle nie laat teregwys nie. | |
| 26 | Daarom sal ek lag as die ongeluk julle tref, ek sal met julle spot wanneer die angs julle oorval, | |
| 27 | wanneer daar nood en kwelling oor julle kom. Die angs sal soos 'n storm oor julle kom, die ongeluk sal julle tref soos 'n orkaan. | |
| 28 | Dán sal julle my roep en ek sal nie antwoord nie, julle sal my soek en my nie kry nie. | |
| 29 | Julle het 'n afkeer van kennis gehad, julle het geweier om die Here te dien, | |
| 30 | julle het my raad verontagsaam en elke teregwysing van my geminag. | |
| 31 | Julle sal die vrugte van julle optrede pluk, julle sal van julle eie planne walg. | |
| 32 | “Die onkundiges se dwaling kos hulle die dood, die dwase word vernietig deur hulle selfversekerdheid, | |
| 33 | maar wie na my luister, sal veilig wees en hoef geen ramp te vrees nie.” |
Ontwikkel deur