Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

“Kan jy vir 'n leeu sy prooi vang? Kan jy vir hom genoeg gee om te eet

2

wanneer hy in sy skuilplek gereed lê, op die loer lê agter 'n bos?

3

Wie gee vir 'n kraai die kos wat hy nodig het wanneer sy kleintjies om hulp roep na God, rondskarrel vir iets om te eet?

4

Ken jy die tyd wanneer die klipspringers lam? Staan jy en kyk waar die wildsbokke kleintjies kry?

5

Kan jy vir hulle die draagtyd bepaal, weet jy presies wanneer hulle moet lam?

6

Hulle trek inmekaar, die bokkies word gebore, die geboortepyne is gou verby.

7

Die lammers groei en word groot in die veld, hulle gaan weg en kom nie na die ooie toe terug nie.

8

“Wie gee aan die wildedonkie sy vryheid en laat hom ongebonde vryloop?

9

Ek het vir hom die oop veld gegee om in te bly die brakbossies om in te wei.

10

Hy bekommer hom nie oor die gewoel in die stad nie, hy hoef nie te luister na die geskreeu van 'n drywer nie.

11

Hy deurkruis die berge vir weiding, hy snuffel elke groen sprietjie uit.

12

“Sal die buffel gewillig wees om vir jou te werk? Sal hy deur die nag by jou krip bly staan?

13

Kan jy hom inspan en ploegvore met hom trek? Kan jy hom lei om die land agter jou te eg?

14

Sal jy jou op hom verlaat vir sy reusekrag? Sal jy dit aan hom oorlaat om vir jou 'n oes te lewer?

15

Sal jy op hom vertrou om jou graan te oes en op jou dorsvloer bymekaar te bring?

16

“Die vlerke van die volstruis klap vrolik net soos dié van die ooievaar en die valk,

17

maar sy lê haar eiers op die grond en broei hulle uit op die sand.

18

Sy dink nie daaraan dat hulle stukkend getrap kan word nie, dat wilde diere haar eiers kan breek nie.

19

Sy maak haar kuikens hard groot, asof hulle nie haar eie is nie; as haar moeite dan tevergeefs was, skrik dit haar nie af nie.

20

God het nie vir haar wysheid gegee nie, sy het geen verstand nie,

21

maar wanneer sy met vlerke omhoog hardloop, lag sy die perd en sy ruiter uit.

22

“Gee jý vir die perd sy krag, sit jý vir hom maanhare aan?

23

Het jý gemaak dat hy kan spring soos 'n sprinkaan, dat hy almal bang maak met sy trotse gesnork?

24

Hy kap die grond met sy pote en trippel rond, met krag skiet hy vorentoe, die geveg in.

25

Bang wees bestaan vir hom nie, hy skrik nie, hy deins nie terug vir oorlog nie.

26

In die koker aan sy sy ratel die pyle, die spies en die swaard blink in die son.

27

Opgewonde en oorgehaal kap-kap hy die grond, hy kan nie wag vir die blaas van die trompet nie.

28

By die blaas van die trompet runnik hy, hy weet die geveg kom, hy ken die offisiere se bevele en hulle krygskrete.

29

“Is dit deur jou insig dat 'n valk vlieg, dat hy sy vlerke na die suide toe span?

30

Is dit op jou bevel dat 'n aasvoël hoog opvlieg en sy nes in die hoogte gaan bou?

31

Hy woon op die rotse, hy bly daar, op die spits en die kranse.

32

Van daar af soek sy oë na kos, van ver af sien hy dit.

33

Sy kuikens vreet bloederige vleis, en waar iets doodgaan, is hy.”

34

Die Here het verder vir Job gesê:

35

“Wil jy 'n saak maak teen die Almagtige en Hom bestraf? Wil jy vir God teregwys? Antwoord Hom dan!”

36

Job het toe vir die Here gesê:

37

“Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer stilbly.

38

Ek het gepraat, maar ek kon nie 'n antwoord vind nie, ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly.”