Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my

2

dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is

3

oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees.

4

Hulle is tog Israeliete; vir hulle het God as sy kinders aangeneem en in sy heerlikheid was Hy by hulle; met hulle het Hy die verbonde gesluit en aan hulle die wet van Moses gegee, asook die tempeldiens en die beloftes;

5

hulle stam van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore – Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig! Amen.

6

Dit wil nie sê dat die woord van God nie meer geld nie. Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie;

7

en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie. Inteendeel, die belofte was: “Uit Isak sal daar vir jou 'n nageslag kom.”

9:7: Gen. 21:12.
8

Dit wil sê: Dit is nie die kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is, wat kinders van God is nie; dit is die kinders wat kragtens die belofte van God gebore is, wat as Abraham se nageslag gereken word.

9

Die woorde: “Op dié tyd sal Ek weer kom, en dan sal Sara 'n seun hê,” was immers 'n belofte.

9:9: Gen. 18:10, 14.
10

En dis nie al nie. Rebekka was net een keer swanger, deur ons voorvader Isak.

11-13

Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat 'n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep.

9:11-13: Gen. 25:23. 9:11-13: Mal. 1:2-3.
14

Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie!

15

Vir Moses het Hy gesê: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.”

9:15: Vgl. Eks. 33:19.
16

Dit hang dus nie af van 'n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is.

17

In die Skrif sê God immers vir die farao: “Juis hiervoor het Ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.”

9:17: Vgl. Eks. 9:16.
18

Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.

19

Nou sal jy vir my sê: “Maar waarom verwyt Hy ons dan nog? Wie kan tog teen sy wil ingaan?”

20

Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?”

21

Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?

22

En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra.

23

So sou Hy ook die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore voorberei het om aan sy heerlikheid deel te hê.

24

En onder hulle is ook ons, wat Hy nie net uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies geroep het.

25

So sê Hy dan ook in die boek Hosea: “Hulle wat nie my volk is nie, sal Ek roep om my volk te wees, en haar wat geen liefde ontvang het nie, om my geliefde te wees.”

9:25: Vgl. Hos. 2:22.
26

“En in plaas daarvan dat vir hulle gesê is: ‘Julle is nie my volk nie,’ sal hulle geroep word om kinders van die lewende God te wees.”

9:26: Hos. 1:10.
27

En Jesaja roep van Israel dít uit: “Al was die Israeliete so baie soos die sand van die see, net die handjievol wat oorbly, sal gered word,

28

want die Here gaan eens en vir altyd hier op aarde die saak afhandel.”

9:28: Vgl. Jes. 10:22-23.
29

So het Jesaja trouens al vroeër gesê: “As die Here, die Almagtige, nie vir ons 'n klompie laat oorbly het nie – soos met Sodom sou dit met ons gegaan het, soos Gomorra sou ons uitgewis gewees het.”

9:29: Vgl. Jes. 1:9.
30

Wat is nou ons gevolgtrekking? Dít: heidene het nie God se vryspraak gesoek nie, maar dit wel gekry – die vryspraak deur die geloof.

31

Israel, daarenteen, het 'n wet gesoek waardeur hulle God se vryspraak sou kon kry, maar by so 'n wet het hulle nie uitgekom nie.

32

Waarom kon hulle nie die vryspraak kry nie? Omdat hulle nie op die geloof wou bou nie, maar op hulle eie prestasies. Hulle het oor die struikelblok gestruikel

33

waarvan daar geskrywe staan: “Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer waaroor 'n mens struikel, 'n rots waarteen jy jou stamp, maar wie in Hom glo, sal nie teleurgestel word nie.”

9:33: Vgl. Jes. 8:14; 28:16.